zondag 19 september 2010

De zilwer winnende kort-kortverhaal: Blonde hare, groot bruin oë

Hier mijn verhaaltje waar ik het over heb in het bericht hierboven.


Blonde hare, groot bruin oë
deur Joanelle Everson

“Georg!” Melissa hoor hoe Kylie Georg se aandag probeer te trek op 'n fluistertoon. “Hoe gaan dit met Tracey?” Georg draai hom om na Kylie toe. Wouter wat langs Georg sit draai nou ook om. “Ja, Georg, hoe gaan dit met jou nuwe meisie?” sê Wouter tergerig. Melissa se hart bly vir 'n oomblik stilstaan. Wat? Het Georg 'n meisie? Het sy dit reg gehoor? Hoe kon dit gebeur het? Sy het eerste vir Georg raakgesien! Al in graad 9, dis nou drie jaar terug. En hy en sy het nou uiteindelik vriende begin raak. Melissa is omgekrap. “Haha, Wouter.” sê Georg sarkasties.“Jy's jaloers, né?”
“O, ja! Daai pragtige blonde hare en groot oulike bruin oë.” terg Wouter weer. Kylie lag vir die twee. Melissa weet sysélf is jaloers. Sy probeer om weer op haar skoolwerk te fokus.
Meeste organiese molekule het 'n molekulêre formule wat ooreenstem met dié van 'n ander molekuul. ...Wie is Tracey? Daardie meisie is seker baie mooier as wat sy is, dink Melissa moedeloos. Melissa kan nie konsentreer nie. Maar sy probeer tog... Isomere is verbindings met dieselfde molekulêre formule, maar verskillende strukture. Skielik val 'n opgefrommelde papiertjie voor haar op haar wetenskap-boek neer. Sy kyk om haar rond, om te sien wie dit gegooi het. Haar oë ontmoet Georg s'n. Hy glimlag vir haar. Sy ontfrommel die briefie.
Haai Melissa,
Sy kyk weer vinnig op na Georg. Hy kyk haar vraend aan. Sy kyk weer af na die briefie.
Ontmoet my vanmiddag 4 uur by die Milkyway by die strand.
Melissa se hart klop vinnig. Sy kan dit nie glo nie! Dit sou die gelukkigste dag van haar lewe gewees het, ás sy nie gehoor het van Tracey nie. Sy verstaan dit nie...
Melissa is by die Milkyway. Georg is nog nie daar nie. Sy besluit om solank in die lang ry te gaan staan om 'n melkskommel te bestel. Sy wonder weer hoekom hy haar wou ontmoet. Of het hy dalk 'n grap gemaak? Sy kyk senuweagtig rond. Aan 'n tafeltjie sit 'n man alleen en koffie drink. Hy gooi een suiker in sy koffie. Direk daarna nog twee. Hy roer sy koffie. Hy gooi nog 'n suiker in. Hy vat 'n sluk en spoeg dit amper weer uit. Melissa giggel saggies. “Ekskuus.” Iemand tik teen Melissa se skouer. Sy besef toe dadelik sy moet aanskuif in die ry. Dis amper Melissa se beurt. Melissa sien 'n dogtertjie wat met 'n ballon speel. Sy swaai die ballon rond en geniet dit verskriklik. Totdat die ballon 'n hoek van 'n tafeltjie tref. Die dogter kyk vir 'n oomblik verbaas na die stokkie waaraan nou net 'n ballon vas was. Sy begin te huil. Melissa staan by die toonbank. In plaas van 'n melkskommel koop sy 'n roomysie. Melissa buk af na die dogtertjie toe en gee die roomysie vir haar. Die dogtertjie hou op met huil.
“Haai Melissa!” Dis Georg.
“O, haai Georg.” Melissa staan senuweagtig op.
“Ek wil graag Tracey aan jou voorstel.”
“O.” Melissa probeer vriendelik klink en doen haar bes om te glimlag. Dan sien sy 'n goue Labradortjie met groot bruin oë by Georg se voete.
“O!” Hierdie keer glimlag Melissa regtig. “Sy is te oulik!”
“Ek het geweet jy hou van honde. Kom ons gaan drink ietsie.” Georg tel Tracey op. “Maar...” Melissa raak paniekerig. Sy het nie meer genoeg geld het om iets te bestel nie.
Georg laat haar nie verder praat nie.“Jy kan nie nee sê nie! Ek trakteer.”

1 opmerking:

  1. Hahaha wat een leuk verhaal joh :D Gefeliciteerd! Zuid-afrikaans schrijft wel grappig joh :'D
    Maar het meeste is wel te ontcijferen :D

    xx
    Melissa

    BeantwoordenVerwijderen